



Kortfilm deur gevestigde filmmakers: ARK
Dit is 2075. Op ’n ruimteskip is twee uitverkore Afrikaanse jongmense, Noa (Ben Albertyn) en Mira (Kristen Raath), op pad na Mars om die voortbestaan van ’n volk en sy erfenis te verseker. In vervaardiger Emma Kotze en skrywer-regisseur Johann Vermaak se wetenskapsfiksie-drama, ARK, word die grense van Afrikaanse rolprente verbreed en bekende temas innoverend vanuit ’n buiteruimtelike konteks belig. Hulle gebruik regte akteurs, marionette, spesiale effekte en spesiaal geboude stelle.
Johann en Emma het oor die fliek gesels:
Soos met jou vorige Silwerskermfees-kortfilm, Die groot twis, verskuif jy met ARK die grense van inhoud wat in Afrikaans gemaak word?
Johann: Ek is baie lief vir 70’s-wetenskapsfiksie. Ek is mal oor die visuele styl en amper naïewe optimisme oor ’n utopiese toekoms. Die Afrikaanse televisiereeks Interster was een van my inspirasies. Die idee was om daardie selfde gevoel en satiriese uitkyk te transponeer na Suid-Afrika en na Afrikaans. Daar is nuanses in die datums wat ons gebruik het wat kykers hopelik sal oplet.
Julle speel in ARK met verskillende temas, waaronder die liefde, die mite van Afrikaners as ’n uitverkore volk … Hoe sou jy die fliek se onderliggende temas in ’n neutedop beskryf?
Johann: Ek het doelbewus baie vlakke ingesluit, maar die hart van die storie is ’n liefdesverhouding. Ons het al baie hierdie verhaal sien uitspeel: twee mense wat hul verhouding begin met hoop vir die toekoms, en dan ontrafel dinge. Ons neem dit egter na ekstreme atmosfere … letterlik. In wese gaan ARK oor die mites wat ons vir onsself vertel.
Emma: Getrou aan die wetenskapsfiksie-genre, stel ARK die kyker bekend aan ’n verbeelde wêreld, terwyl dit eintlik met alledaagse of oertemas omgaan. Dit stel ondersoek in na die identiteit van die mens, hoe ons dit in intieme verhoudings vestig, asook in die groter kollektief van kulturele identiteit. Deur dít alles het ons deurlopend daarna gestreef om die karakters steeds herkenbaar te maak. Dit was vir ons belangrik dat die kyker vir hulle empatie kan hê, ten spyte van die skynbaar onbekende wêreld en omstandighede waarin dit afspeel.
ARK is visueel treffend. Hoe het julle op die voorkoms van die fliek besluit?
Johann: Waar Die groot twis in my kop soos ’n Pierneef-skildery was, was hierdie fliek meer soos ’n Mondrian. Dit klink dalk pretensieus, maar die idee was om met sterk blokke kleur ’n amper kliniese gevoel te skep om deur die fisieke wêreld ’n spieëlbeeld te skep van wat in die karakters se binnewêreld aangaan. In die ruimteskip dra die lineêre strakheid byvoorbeeld by tot die spanning in die verhouding.
Toe ek jonger was, het ek Krzysztof Kieślowski se Three Colours-trilogie gekyk en dit het ’n groot impak op my gehad. Ek wou ’n fliek maak waarin kleur ’n belangrike rol speel en die drie verskillende wêrelde was my wegspringpunt. Broodkrummels deur die loop van die film lei die kyker om die misterie te ontsyfer.
Die kinematograaf, Jorrie van der Walt, is geniaal. Hy is sekerlik een van die beste kinematograwe – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd het hy ongelooflike werk gedoen. Arlene Wentzel se produksie-ontwerp is fantasties.
Daar is heelwat spesiale effekte gebruik. Hoe is dit ontwikkel?
Johann: Ons het vooraf baie navorsing gedoen oor die visuele en konseptuele omgewing waarbinne die fliek sou afspeel. Die briljante Loubser Claassen van Filmscape, Mashalane Mothiba van Lyrical VFX, en Charmaine Greyling van Strangelove Studios het vir ons hierdie wêreld geskep. Jy koop letterlik ’n 3D-omgewing, amper soos ’n parallelogram, en dan voeg jy teksture en elemente by om jou wêreld te skep.
Emma, dit was jou eerste ervaring as vervaardiger. Wat was die uitdagings, leerkurwes en hoogtepunte?
Dit was een groot leerskool! Ek is gelukkig mal oor ’n spreadsheet, so daardie gedeelte van die rol het my nie afgeskrik nie. Dit is egter skrikwekkend om te besef hoe min jy werklik weet van ’n medium waaraan jy al redelik baie tyd spandeer het. Gelukkig was ons hele kreatiewe en produksiespan ongelooflik ondersteunend en hulle het my met soveel geduld om elke hoek en draai bygestaan. Ek kan sonder twyfel sê dat dit vir my die hoogtepunt was om opnuut deur mense se goedgunstigheid verras te word wanneer almal op ’n kreatiewe droom inkoop.
Die musiek vir ARK is deur Charl-Johann Lingenfelder gekomponeer. Dit moet baie bevredigend wees wanneer ’n storie uit jou pen só ’n besonderse klankbaan kry?
Johann: Die musiek in ARK is soos ’n vierde, alomteenwoordige karakter wat die emosie dryf. Ek en Charl-Johann het dadelik gekliek toe ons oor die fliek begin praat het. Ons verstaan die taal van musiek op ’n soortgelyke manier. Soos in die Three Colours-trilogie, wat soos die kreet van ’n land is, is daar in die klankbaan sprake van melodrama, maar ook van satire. Onthou, dis ernstig, maar ook bietjie nié-ernstig.
Hoe het julle op Ben Albertyn en Kristen Raath vir die hoofrolle besluit?
Johann: Dit was nogal ’n storie om die regte akteurs te vind. Ek ken Ben goed, maar ek het aanvanklik ’n akteur met ’n ander tipe voorkoms gesoek. Die akteur wat ons gekies het, se skedule het nie uitgewerk nie, so Ben het drie dae voor ons begin skiet het soos ’n wonderwerk ingevlieg. Hy is ’n baie intelligente akteur en het ’n dieper nuanse aan die karakter verleen as wat ek as skrywer my kon verbeel.
Ek het Kristen nie voorheen geken nie, maar ek was bekend met haar werk, soos in Wyfie. Ons het ’n baie spesifieke vrou vir die rol gesoek. Eintlik ’n “meisie”. En nee, dis nie ’n Freudiaanse glips nie. Ons het vir hierdie rol iemand nodig gehad wat jonk is, met onskuldige oë, maar ook met krag. Sy het ons weggeblaas.